Poet, Naturalist and Writer Eugene Marais
An Afrikaner Genius

DIE STILLE RUSPLAAS
Drie verse uit "Die Tuin van Proserpina"

Die Juigende, die Sterke -
Die dood sal hom ook raak;
Nooit sal hy vlieg met vlerke
Of pyn in vure smaak.
Die Skoonheid van die rose,
Die kom en gaan van blose
Stoor nooit die Liefdelose -
Waar liefde ons versaak.

Bevryd van dors na lewe,
Van al ons hoop en wee,
Dank ons - bo alle vrees verhewe -
Die gode wat dit gee:
Hier eindig al ons drome,
Hier rus die lewenslome,
Hier vloei die moegste strome
Uiteindelik in die see.

Nòg gloeiend' son, nòg duister,
Nòg keer van aand en dag,
Nòg waters sag gefluister
Sal ooit die slaap verkrag.
En soeter, sagter, vromer,
Vergeefs kom weer die Somer,
Want droomloos is die Dromer,
Verdiep in ewig' nag.

"WAAR TEBES IN DIE STIL WOESTYN"

Daar sou ek vrede weer besef
Waar Tebes in die stil woestyn
Sy magtig' rotswerk hoog verhef
En Mara in die sand verdwyn;

Waar smôrens van die hoogste krans
Die berghaan draaiend opwaarts spoed
Om uit die gloeiend' hemeltrans
Met groot geroep die son te groet;

Waar treurig nog die wolfgehuil
Weerklankend in die klowe dwaal,
En grootwild om die syferkuil
Soos skadu's in 'n stofwolk maal;

En huiswaarts brommend sluip die tier,
Sy donker moordplek pas verlaat,
Wanneer die eerste grou lumier
Met slepend' mis die veld beslaat.

O Land van al ons liefde, daar
Sou ek aanbiddend weer
Die kloppe van U hart gewaar,
U moederlike skoonheid eer.

Sou ek een guns nog hier verdien,
- Nog een gebed omhoog verhoord -
Geen mensepraal sou ek wou sien,
Die glorie van geen vreemde oord.
My bede sou net dit verkry: -
Laat weer U eensaamheid my daar
Vir laas met roerend' mag berei
U groter stilte te aanvaar.

Laat uitlok deur geen suil of steen
'n Enkel sug of woord van haat;
Met al U vrede om my heen
Sal nagt'liks uit die hemelstraat
Sag neerskyn op my laaste huis
Die vonkelend' sterrebeeld van U kruis.

Elk' ydel vrees sal daar verdwyn;
Daar sou ek vrede weer besef
Waar Tebes in die stil woestyn
Sy magtig' rotswerk hoog verhef.

DIEP RIVIER
Vertaling van die lied van Juanita Perreira

O, Diep Rivier, O Donker Stroom,
Hoe lank het ek gewag, hoe lank gedroom,
Die lem van liefde wroegend in my hart?
– In jou omhelsing eindig al my smart;
Blus uit, O Diep Rivier, die vlam van haat; –
Die groot verlange wat my nooit verlaat.
Ek sien van ver die glans van staal en goud,
Ek hoor die sag gedruis van waters diep en koud;
Ek hoor jou stem as fluistering in ’n droom,
Kom snel, O Diep Rivier, O Donker Stroom.

SKOPPENSBOER

I

'n Druppel gal is in die soetste wyn;
'n traan is op elk' vrolik' snaar,
in elke lag 'n sug van pyn,
in elke roos 'n dowwe blaar.
Die een wat deur die nag
ons pret beloer
en laaste lag,
is Skoppensboer.

II

Gewis en seker is die woord:
die skatte wat ons opvergaar,
ondanks die sterkste slot en koord
word net vir mot en roes bewaar.
Net pagters ons
van stof en dons
om oor te voer
aan Skoppensboer.

III

Die heerlikheid van vlees en bloed;
die hare wat die sonlig vang
en weergee in 'n goue gloed;
die dagbreek op elk' sagte wang
en oë vol van sterreprag
is weerloos teen sy groter mag.
Alreeds begint die rimpel sny;
oor alles hou die wurm wag
en stof en as is al wat bly:
Want swart en droef,
die hoogste troef
oor ál wat roer,
is Skoppensboer.

IV   L'ENVOI

Gewis is alles net 'n grap!
Ons speel in die komedie mee
geblinddoek met 'n lanferlap
wat selfs die son 'n skadu gee.
Wat treur ons tog?
Viool en fluit maak nog geluid,
en lank die nag wat voorlê nog.
Al kan ons nooit volmaaktheid raak,
nog blink die oog en gloei die huid
wat heel die winter blomtyd maak.
Dus onverlee
lag ons maar mee
met elke toer
van Skoppensboer!


Read wikipedia's page about Eugene Marais